GBA REGULASIES

Lees meer
  1. KONSTITUSIE EN REGULASIES
    1. Die Assosiasie se naam is die Groep-Begrafnisassosiasie wat as GBA sake sal bedryf.
    2. Die GBA is bevoeg om in sy eie naam eisend en verwerend op te tree.
    3. Die geregistreerde kantoor van die GBA is in Newstraat, ’n dwarsstraat uit Joubertstraat, Germiston.
    4. Alle betalings verskuldig deur of aan die GBA geskied in die betaalmiddel van die Republiek van Suid-Afrika by die GBA se geregistreerde kantoor, met dien verstande dat die bestuur betalings by enige ander plek op sulke voorwaardes as wat hy goed vind, kan laat doen.
    5. Die GBA is geregistreer as ’n Onderlinge Hulpvereniging by die Raad op Finansiële Dienste FS13/8/445.
  2. INWERKINGTREDING VAN REGULASIES
    1. Hierdie regulasies tree op 1 September 2020 in werking en vervang alle vorige regulasies en wysigings daarvan.
  3. WOORDOMSKRYWINGS
    1. In hierdie regulasies het alle woorde wat in die Wet omskryf is die betekenisse aldus daaraan geheg en tensy onverenigbaar met die sinsverband, sluit alle woorde en uitdrukkings wat die manlike geslag aandui ook die vroulike geslag in, omvat woorde wat die enkelvoud aandui ook die meervoud en omgekeerd en het die volgende woorde en uitdrukkings die volgende betekenisse:
    2. Afhanklike beteken een gade van ’n lid asook ’n lid se kinders of pleegkinders.
    3. Opbetaalde ouderdom is 63 jaar en alle lede – ongeag op welke wyse hulle lidmaatskap bekom het – betaal tot op hierdie ouderdom ledegeld.
    4. Raad beteken die Raad wat kragtens reg. 26 gekies is.
    5. Dagbestuurslede beteken die Dagbestuur wat kragtens reg. 31 gekies is.
    6. Opleidingspersoneel beteken doserende- en administratiewe personeel werksaam by staats- en staatsondersteunde skole, tegniese kolleges, technikons, universiteite en onderwyskolleges.
    7. Predikante beteken geordende predikante wat deur hulle spesifieke denominasies afgesonder is vir die bediening van lidmate.
    8. Diens beteken werk vir Transnet (soos omskryf in 3.17), die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die GBA ,opleidingspersoneel en predikante.
    9. Gade beteken ‘n enkel eggenoot/note met wie daar ‘n wettige huwelik gesluit is.
    10. GBA beteken Groep-Begrafnisassosiasie.
    11. Geskeide beteken ‘n geskeide man/vrou wat kragtens reg. 8.2 lid geword het nadat hy/sy geskei4 is.
    12. Hoofbestuurder beteken die Hoofbestuurder wat kragtens reg. 30 aangestel is.
    13. Kind beteken ‘n kind van ‘n lid met inbegrip van ‘n buite-egtelike kind, ‘n kind wat na die dood van sy vader gebore is, ‘n stiefkind en enige ander kind wat vir die doeleindes van hierdie regulasies, deur die raad as ‘n aangenome kind beskou word; mits die kind ongetroud, onder die ouderdom van een-en twintig jaar is en volkome van die lid afhanklik is.
    14. Kontrakteur beteken ‘n begrafnisondernemer met wie die GBA ‘n ooreenkoms aangegaan het om dienste namens hom te onderneem.
    15. Lid beteken ‘n persoon wat lid van die GBA geword het en nie sy lidmaatskap verbeur het nie.
    16. Pensioenarisse – persone bo die ouderdom van 60 jaar word as pensioenarisse gereken, ongeag of hulle nog by enige instansie in diens is.
    17. Transnet beteken alle vertakkings van Transnet Beperk en sy filiale insluitende dié vertakkings wat voor die herstrukturering besigheid bedryf het en na 23 Mei 1988 geprivatiseer het.
    18. Weduwee-/wewenaarlid beteken ‘n weduwee/wewenaar wat kragtens reg. 8.1 ‘n lid geword het by die afsterwe van haar/sy gade.
    19. Wet beteken die Wet op Onderlinge Hulpverenigings, 1956 (Wet nommer 25 van 1956) soos gewysig, en die regulasies daaronder uitgevaardig.
    20. Wagtydperk is die tydperk wat moet verloop vanaf die aansluitingsdatum vir die lid sowel as haar/sy afhanklikes.
    21. Begrafnisse kan ook verassing/s beteken en andersom.
  4. DOELSTELLINGS
    1. Die doelstellings van die GBA is om:
      1. Ledegeld van lede te vorder en van tyd tot tyd te wysig;
      2. Self of deur middel van kontrakteurs die begrafnisse/verassings van lede en hulle afhanklikes te onderneem;
      3. Kontantwaarde, ingevolge reg. 19.1, 20 en 25.2 by die afsterwe van lede en hulle afhanklikes waar begrafnisse nie deur die GBA of sy kontrakteur onderneem is nie, te betaal; en
      4. Voordele aan die lede en afhanklikes van die Onderlinge-Spoorwegbegrafnis-hulpvereniging wie se name tydens die samesmelting in die registers voorgekom het, en lidmaatskap nog nie verval het nie, toe te ken.
  5. LIDMAATSKAPGESKIKTHEID
    1. Die volgende persone kan in aanmerking kom vir lidmaatskap van die GBA:
      1. ‘n Persoon in diens van Transnet of die Suid-AfrikaansePolisiediens, opleidingsperso neel, predikante, inwoners van Gauteng en werknemers van die GBA.
      2. ‘n Lid se kind en/of pleegkind ooreen-komstig reg. 7.1.
      3. Die wewenaar van ‘n gestorwe lid, ooreenkomstig reg. 8.1.
      4. Die kind van ‘n afgestorwe lid, ooreenkomstig reg. 9.1.
      5. Die geskeide gade van ‘n lid, ooreenkomstig reg. 8.2.
      6. ‘n Lid se kind wat onafhanklik is, dit wil sê selfonderhoudend of 21 jaar, mag in eie reglidmaatskap van die GBA bekom.
      7. ‘n Wewenaar pensioentrekker van Transnet,die Suid-Afrikaanse Polisie-diens, opleidingspersoneel en predikante onder die ouderdom van 60 jaar, wie se eggenote voorheen in diens van Transnet, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, opleidingspersoneel en predikante was.
      8. ‘n Wewenaar pensioentrekker van Transnet, die Suid-Afrikaanse Polisie-diens, opleidingspersoneelen predikante oor die ouderdom van 60 jaar, wie se gade voorheenin diens van Transnet, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, opleidingspersoneel en predikante was, met dien verstande dat hy die eenmalige bedrag (soos aangedui in reg. 14.1) se ledegeld inbetaal en dat indien hy weer trou, sy eggenote nie op voordele geregtig sal wees nie. Sodanige eggenote kan egter lidmaatskap bekom deur die eenmalige bedrag (soos aangedui in reg. 14.1) in te betaal met ooreenstemmende beperkings soos hierbo gemeld.
      9. Pensioenarisse, voorheen in diens van Transnet of die Suid-Afrikaanse Polisiediens, opleidingspersoneel en predikante, met dien verstande dat hy ‘n eenmalige bedrag (soos aangedui in reg. 14.1) se ledegeld ten opsigte van homself en ‘n ooreenstemmende bedrag ten opsigte van sy huweliksmaat betaal.
      10. Familielede van bestaande lede.
    2. Indien ‘n lid wat voorregte vir sy gade ontvang het, weer in die huwelik tree nadat hy die ouderdom van 60 jaar bereik het, sal daardie gade nie as afhanklike geregistreer word nie. So ‘n gade sal as lid mag aansluit deur die eenmalige bedrag (soos aangedui in reg. 14.1) se ledegeld te betaal met die beperking dat slegs kinders as afhanklikes geregistreer word.
    3. Alle persone bo die ouderdom van 60 jaar wat in lidmaatskap belangstel en daarvoor kwalifiseer, moet ‘n eenmalige bedrag (soos aangedui in reg. 14.1) betaal ten opsigte van homself en ‘n ooreenstemmende bedrag ten opsigte van sy gade.
  6. AANVAARDING VAN LEDE
    1. Alle voornemende lede moet ‘n aansoekvorm, wat deur die GBA voorsien word, voltooi en onderteken.
    2. Die bestuur kan ‘n aansoek om lidmaatskap aanvaar of van die hand wys.
    3. As ‘n aansoek goedgekeur word en die ledegeld is kragtens reg. 14 inbetaal, word ‘n regulasieboek, wat ook as bewys van lidmaatskap sal dien, aan die nuwe lid uitgereik. Die gegewens van die lid, sy gade, sy kinders of pleegkinders word op die keersy van die regulasieboek se omslag, aangeteken. Die lid of naasbestaande moet die Hoofbestuurder binne twee weke skriftelik in kennis stel van enige verandering in sy gesin, deur geboorte, huwelik of afsterwe en die regulasieboek moet die kennisgewing vergesel. Die bestuur hou hom die reg voor om die toekenning van ‘n voordeel agterweë te hou tot tyd en wyl die lid aan al die vereistes van die regulasies voldoen het.
    4. Indien ‘n persoon oor dubbel lidmaatskap beskik sal in so ‘n geval die eerste lidmaatskap wat op datum betaal is, gebruik word vir die uitvoer van die diens. Die tweede lidmaatskap indien dit ook op datum is, sal dan ‘n bedrag ooreenkomstig die skaal van voordele in reg. 19.1 en reg. 20 uitbetaal wat dan vir ekstra koste aangewend kan word. Geen finansiële voordeel sal uitbetaal word ten opsigte van kinders jonger as 14 jaar op ‘n tweede lidmaatskap.
  7. KINDERS WAT BEGIN WERK, IN DIE HUWELIK TREE, STUDEER OF DIE OUDERDOM VAN 21 JAAR BEREIK
    1. Voordele vir ‘n kind of pleegkind, verval as hy ‘n vaste werk aanvaar of in die huwelik tree of die ouderdom van 21 jaar bereik – wat ookal eerste plaasvind. Hierdie reël is ook van toepassing op leerlinge en studente.So ‘n kind of pleegkind kan onafhanklik lid word al is hy nie in diens van Transnet, Suid-AfrikaansePolisiediens, opleidingspersoneel en predikante nie of in Gauteng woonagtig nie. ‘n Lid kan vir afhanklikes wat voor of op die bereiking van hul 21ste verjaarsdag liggaamlik en/of geestelik ongeskik vir werk is, binne ses maande – indien hulle nog lewe – aansoek doen dat so ‘n persoon as ‘n afhanklike geregistreer bly. So ‘n aansoek moet van ‘n mediese sertifikaat, wat sodanigeongeskiktheid bevestig, vergesel word. Indien so ‘n gestremde afhanklike in die huwelik tree, of selfversorgend word, moet ‘n eie lidmaatskap vanaf daardie bepaalde datum bekom word.
    2. Hierdie reël is ook van toepassing op lede van dieOnderlinge-Spoorwegbegrafnishulpverenig-ing se kinders.
  8. WEDUWEE-/WEWENAARLEDEENGESKEIDE LEDE WAT VOORHEEN AFHANKLIKES OP ‘N ANDER LIDMAATSKAP WAS
    1. As die lid te sterwe kom, kan sy gade lidmaatskap voortsit met dien verstande dat sy en haar afhanklikes op voordele geregtig sal wees op dieselfde grondslag as toe sy getroud was. Die nagelate gade sal ledegeld betaal in dieselfde ouderdoms-kategorie wat die hooflid voor afsterwe betaal het.
    2. As ‘n lid skei, verval die afhanklike gade se voordeel. Sodanige persoon kan op sy eie aansoek doen vir lidmaatskap onderworpe aan reg. 14.1 of die geskeide lid kan voortgaan met die kategorie van ledegeld wat voor die egskeiding van toepassing was – indien so ‘n aansoek binne ses maande van die skeidatum af ingedien word – deur betaling vanaf die skeidatum met inagneming van reg. 8.4.
    3. As ‘n weduwee of geskeide lid ingevolge reg. 8.1 en 8.2 weer trou, kan haar eggenoot as ‘n afhanklike geregistreer word, mits die registrasie binne drie maande na die troudag geskied.
    4. Indien die gade van ‘n weduwee 36 jaar of ouer is, is hy nie geregtig om as haar afhanklike geregistreer te word nie. Die weduwee is dan geregtig op voordele slegs vir haarself, die kinders uit haar vorige huwelik en die afhanklikes van haarself en haar nuwe gade.
    5. Die gade wat 36 jaar oorskry, kan lidmaatskap verkry deur ledegeld te betaal kragtens reg. 14.1.
  9. WEESKINDERS
    1. As albei ouers van ‘n kind te sterwe kom, is sodanige kind of pleegkind sonder die betaling van ledegeld op lidmaatskap en voordele geregtig totdat hulle vaste werk aanvaar, trou of die ouderdom van 21 jaar bereik, watter ookal die vroegste, met dien verstande dat daar vir ‘n gestremde weeskind ingevolge reg. 7.1 reëlings getref kan word om as lid geregistreer te kan bly.
  10. VOORTDURING VAN LIDMAATSKAP BY DIENSVERLATING
    1. As die lid voor aftree-ouderdom die diens verlaat, is hy daarop geregtig om sy lidmaatskap te laat voortduur deur ledegeld verder te betaal.
  11. WANNEER LIDMAATSKAP EINDIG
    1. ‘n Lid se lidmaatskap verval wanneer sy ledegeld drie (3) maande agterstallig is. Die GBA onderneem om die lid voor die vervaldatum skriftelik en by die laaste bekendeadres, in kennis te stel dat sy ledegeld agterstallig is.
    2. Geen eis wat ontstaan het terwyl die lidmaatskap verval het, sal erken word nie.
    3. Terme van herstel van lidmaatskap:
      1. Lidmaatskap kan heringestel word deur ledegeld vanaf die wanbetalingsdatum tot die huidige datum te betaal teen die heersende ledegeld van toepassing op die lid, onderworpe aan goedkeuring deur die Bestuur.
      2. Indien ‘n persoon lidmaatskap van die GBA bekom het en dit weens wanbetaling verval het, sal ‘n aansoek om ‘n nuwe lidmaatskap wel oorweeg word indien die terugbetalingstydperk een jaar oorskry. Hierdie bepaling is onderworpe aan reg. 5 in sy geheel en plaas nie ‘n beletsel op die uitvoering van reg. 11.2 nie.
  12. INSKRYWING VAN AFHANKLIKES
    1. ‘n Lid is daarop geregtig om die volgende verwante in te skryf wie op alle voordele geregtig sal wees:
      1. ‘n Lid se pleegkind, onderhewig aan reg. 7.1, mits die ingeskrewe verwant gewoonlik volkome van hom afhanklik is – amptelike bewys moet voorgelê word.
      2. Die lid moet bewys tot bevrediging van die bestuur lewer wat betref die ouderdom van alle ingeskrewe ver-wante, dat die ingeskrewe verwant geheel en al van hom afhanklik is en deur hom onderhou word.
      3. ‘n Gesertifiseerde afskrif van ‘n huweliksertifikaat of ‘n huweliksverbintenis asook ‘n geboortesertifikaat word vereis vir die registrasie van afhanklikes.
  13. INWERKINGTREDING VAN LIDMAATSKAP
    1. Lidmaatskap tree in werking nadat die eerste betaling van ledegeld ontvang is. Vir persone wat vanaf 1 Mei 2011 nuut aansluit, sal daar ‘n drie (3) maande wagtydperk ten opsigte van natuurlike sterftes wees. Die wagtydperk sal wees vanaf die eerste positiewe lede-geldbetaling wat ontvang is ongeag of daar ‘n terug- of vooruit betaling is. In die geval van onnatuurlike sterftes sal daar nie ‘n wagtydperk wees nie.
  14. LEDEGELD
    Bestaande lede van die GBA soos op die lederegister van 31 Desember 2005, betaal R35 per maand. Lede wat na 31 Desember 2005 lid geword het en nuwe lede, betaal ledegeld soos hieronder uiteengesit.
    1. Onderworpe aan die bepalings van hierdie regulasies betaal persone onder die ouderdom van 36 jaar, R35 per maand. Die volgende bedrae is van die ouderdom van 36 jaar af, betaalbaar:
      36 – 40 jaar: R 53 per maand
      41 – 45 jaar: R 69 per maand
      46 – 50 jaar: R 93 per maand
      51 – 55 jaar: R144 per maand
      56 – 60 jaar: R348 per maand
      Eenmalige bedrag van R12 000 vir lede bo 60 jr.
         
        (i) ‘n Lid wat aansluit se ledegeld bly in die ouderdomskategorie soos tydens aansluiting tot opbetaalde datum of wanbetalingsdatum. In die geval van wanbetaling mag die ledegeld-ouderdomskategorie verander met inbegrip van die gepaardgaande ledegeld.
      1. Alle lede, ongeag die wyse waarop hulle lidmaatskap bekom het, betaal ledegeld tot diemaand waarin hulle drie en sestig word.
    2.  
      1. Geen ledegeld is terugbetaalbaar indien die agterblywende afhanklike van ‘n lid reeds die ouderdom van 63 jaar bereik het ten tye van die lid se afsterwe nie.
  15. BETALING VAN LEDEGELD
    1. Ledegeld is betaalbaar voor of op die eerste dag van die maand waarvoor dit verskuldig is.
    2. Ledegeld kan vir ‘n tydperk vooruit in kontant of per tjek betaal word (per pos of oor die toonbank), maandeliks per debietorder in welke geval die GBA die aanvraag sal doen of soos gereël met die administratiewe afdeling.
  16. HEFFING
    1. Volgens reg. 36.5(v) wat as volg bepaal: Onderworpe aan die bepalings van Artikel 20 van die Wet op Onderlinge Hulpverenigings is die Raad bevoeg om: ‘n Algemene of spesiale heffing aan lede op te lê en sodanige heffing in te vorder, met dien verstande dat sodanige heffing slegs op aanbeveling van die Aktuaris opgelê sal word. Lede wie se voordele reeds ingevolge hierdie regulasies volopbetaal is, is nie aan enige heffing onderworpe nie.
  17. VOORDELE
    1. Voordele sal slegs vir lede en hul genomineerde afhanklikes eiswaardig behandel word.
    2. Met ontvangs van bewys van die dood van ‘n lid of sy geregistreerde afhanklike, word die voordele wat in reg. 18 tot en met reg. 25 uiteengesit is, verskaf of betaal. Indien die lidmaatskap by die GBA verval het of deur die lid beëindig is, sal geen voordele ten opsigte van so ‘n lid of sy afhanklikes verskaf word of betaalbaar wees nie.
  18. BEGRAFNISSE, VERVOER EN DIENSTE
    1. Begrafnisse sluit die volgende in:
      1. As ‘n sterfte aan die Witwatersrand of binne 80 km van die perseel waar die GBA ‘n tak het, voorkom, behartig die GBA, behalwe in uitsonderlike gevalle, die begrafnis waarby ‘n ledekis ingesluit is. Die volle bedrag van die koste verbonde aan die grawe van ‘n graf, die uitkoop daarvan of verassingskoste, moet deur die lid of sy afhanklikes self betaal word.
      2. Indien ‘n lid of sy afhanklikes sou besluit om nie van die GBA of ander ondernemer soos aangewys deur die GBA, se dienste gebruik te maak nie, word slegs die hulpbetaling - ooreen-komstig reg. 20 – betaal.
    2. Vervoer binne die omskryfde 80 km gebied, sluit die volgende in:
      1. Verwydering van die stoflike oorskot vanaf die plek van afsterwe of lykshuis na die GBA se perseel.
      2. Vervoer van die liggaam in ‘n lykswa vanaf die GBA se perseel na die plek waar die diensplaasvind en daarna na die begraafplaas of krematorium naaste aan die plek waar dieoorledene woonagtig was.
      3. Alle ander vervoerreëlings en kostes word deur die lid of sy persoonlike verteenwoordiger getref en die GBA aanvaar geen aanspreeklikheid vir sulke reëlings en kostes nie.
    3. Die uitvoering van ‘n begrafnis, sluit die volgende dienste in:
      1. Vervoer van die stoflike oorskot binne omskryfde gebied;
      2. Registrasie van die dood;
      3. Bespreek van ‘n graf of reëlings met die krematorium, wat die geval ookal mag wees;
      4. verskaffing van ‘n ledekis volgens reg. 21 en die voorsiening van grafmatte en aflaatstelsel;
      5. tref van reëlings met betrekking tot die verassingsdokumente; en
      6. voorsiening van ‘n lykswa.
    4. Die volgende dienste word teen betaling voorsien:
      (Sien reg. 20.1)
      1. Sangblaadjies by begrafnisdiens;
      2. Plasing van begrafniskennisgewing in koerante;
      3. Die koop van grafte namens lede ofhulle afhanklikes;
      4. Professionele dienste ten opsigte van verassings of begrafnisse; en
      5. Professional services relating to cremations or burials; and
      6. Vervoerdienste buite omskryfde gebied en/of bykomende vervoer binne die omskryfdegebied.
  19. STERFTES BUITE OMSKRYFDE GEBIED
    1. Indien die sterfte, teraardebestelling of verassing buite die gebiede wat in reg. 18 omskryf word,plaasvind, word die begrafnis deur die GBA se kontrakteurs onderneem. In so ‘n geval, sal ‘n rekening van die kontrakteur betaal word volgens ooreenkoms wat hoogstens as volg beloop:
      Volwassene R7000
      Twaalf jaar en ouer R7000
      Doodgeboorte, 0 tot onder 12 jaar    R2700

      Met dien verstande dat indien die GBA ‘n doodskis ingevolge reg. 21 op versoek van die lid of sy persoonlike verteenwoordiger voorsien, die koste van die doodkis van die bedrag van die uitbetaling afgetrek word. Geen eis sal sonder ‘n amptelike bewys van afsterwe uitbetaal word nie. In die geval van ‘n privaateis, word ‘n bedrag ooreenkomstig die volgende skaal uitbetaal:
      Volwassene R7000
      Twaalf jaar en ouer R7000
      Doodgeboorte, 0 tot onder 12 jaar    R2700
    2. Nieteenstaande soos gemeld in 19.1 hierbo, sal ‘n rekening van hoogstens R3 000.00 vir kinders 0-12 jaar vir direkte begrafniskoste en slegs aan die kontrakteur, betaal word. Hierdie betaling van die rekening sluit gemelde 19.1 in en is nie ‘n bykomende betaling nie.
    3. Die lid of sy persoonlike verteenwoordiger besluit of daar van die dienste van die GBA se kontrakteur gebruik gemaak sal word en onderhandel regstreeks met die kontrakteur. Die kontrakteur tref alle reëlings in verband met ‘n begrafnis soos dit in die ooreenkoms bepaal word. Die lid of sy verteenwoordiger oorhandig sy regulasieboek aan die kontrakteur wat met die GBA skakel om die integriteit van die lidmaatskap vas te stel.
  20. HULPBETALING
    1. ‘n Hulpbetaling word soos volg uitbetaal:
      R2000 by die afsterwe van ‘n lid, gade, kind of pleegkind 12 jaar en ouer;
      R 300 by die afsterwe van ‘n kind of pleegkind onder 12 jaar, insluitend stilgeboortes.
      Met dien verstande dat enige koste verskuldig deur die lid of sy afhanklikes aan die GBA ten opsigte van ekstra begrafnis- of verassingskoste, van die bedrag betaalbaar, afgetrek kan word.
      Indien die hulpbetalingsbedrag oorskry word, sal dit van die naasbestaande verhaal word. Sien reg. 18.4.
  21. LEDEKIS-SPESIFIKASIES
    1. Die doodskis vir ‘n volwassene word uit ‘n goedgekeurde houtsoort gemaak, deurgaans 22mm dik en lig of donkerkleurig gepoleer. Die beslag van die doodskis bestaan uit ses blink hand-vatsels, twee blink dekselversierings, ‘n blink naamplaat waarop die afgestorwene se naam, ouderdom en datum van afsterwe aangebring is en ses blink duimskroewe met skilde.
    2. ‘n kind onder die ouderdom van 14 jaar word ‘n wit doodskis verskaf met beslag bestaande uit vierblink handvatsels, twee dekselversierings en ‘n naamplaat met die naam, ouderdom en sterfdatum daarop.
    3. Die binnekant van die kis word uitgevoer en ‘n lykskleed van goeie gehalte word voorsien.
    4. Verskeie ander kiste – anders as die ledekis – is ook beskikbaar teen ekstra betaling.
    5. Die spesifikasies vervat in hierdie regulasies word, wanneer en waar ookal moontlik, nagekom en dit kan na gelang van omstandighede deur die bestuur gewysig word.
  22. MISKRAAM
    1. Geen voordele word in gevalle waar ‘n miskraam voorkom, toegestaan nie.
  23. GRAFSTENE
    1. Die GBA rig nie grafstene op nie en verskaf geen voordeel tot die oprigting van grafstene nie.
  24. VERASSING
    1. ‘n Liggaam kan in opdrag van ‘n lid of sy verteenwoordiger veras word.
  25. ONDERLINGE-SPOORWEGBEGRAFNISHULPVERENIGING
    1. Alle lede en afhanklikes van die Onderlinge-Spoorwegbegrafnishulpvereniging is gebind aan die konstitusie van die Onderlinge-Spoorwegbegrafnishulpvereniging soos op datum van samestelling op 31 Desember 1968, onderhewig aan die volgende wysiging. Dat vanaf 1 Januarie 1978 (a) die ledegeld dieselfde sal wees as die wat op lede van die GBA (kode 61) van toepassing is, en (b) die voordele dieselfde sal wees as dié soos omskryf in reg. 18 tot 24 van die konstitusie van die GBA.
    2. Indien lede of afhanklikes van die Onderlinge-Spoorwegbegrafnishulpvereniging om een of ander rede nie van die GBA se begrafnisdienste, soos omskryf in reg. 18, gebruik maak nie, is so ‘n lid of sy afhanklikes slegs geregtig op ‘n kontantbedrag gelykstaande aan die hulpbetaling soos bepaal in reg. 20.
    3. Indien ‘n lid van die Onderlinge-Spoorweg-begrafnishulpvereniging ook lid van die GBA is en hy of sy afhanklikes maak van die dienste van die GBA of die GBA se kontrakteur gebruik, word ten opsigte van sy lidmaatskap vandieOnderlinge-Spoorwegbegrafnishulp-vereniging, ‘n bedrag ooreenkomstig die skaal van voordele in reg. 19.1 en ‘n hulpbetaling ooreenkomstig die skaal van voordele in reg. 20 neergelê, aan hom of sy afhanklikes betaal.
  26. NOTA
      Indien lede of afhanklikes van die Onderlinge-Spoorwegbegrafnishulpvereniging om een of ander rede nie van die GBA se begrafnisdienste, soos omskryf in reg. 18, gebruik maak nie, is so ‘n lid of sy afhanklikes slegs geregtig op ‘n kontantbedrag gelykstaande aan die hulpbetaling soos bepaal in reg. 20.
Laai Volledige lys van GBA-regulasies